LUC SCHEEPERS - KLINIESE SIELKUNDIGE

Ek is 'n kliniese sielkundige geregistreer by die Gesondheidsberoepsraad van Suid-Afrika met praktyke in Rawsonville en Paarl. 

My kwalifikasies is soos volg:

BA Geesteswetenskappe (Universiteit Stellenbosch)

BA Honneurs (Universiteit Stellenbosch)

MA Sielkunde (Universiteit Stellenbosch)

MA Kliniese Sielkundige (Nelson Mandela Universiteit, Gqeberha/Port Elizabeth)

Ek het my voorgraadse studies, honneursgraad en meestersgraad in sielkunde (navorsingstesis) by die Universiteit Stellenbosch voltooi. My tesis het gehandel oor die ervarings van ouers wat 'n kind afgestaan het aan die dood. Die fokus was op die ouers se veerkragtigheid - hoe hulle sterk kon staan te midde van hul rou en hoe hulle oorleef en aangepas het tot 'n lewe sonder hul kind. Ek het by hierdie ouers geleer dat innerlike krag en emosionele weerbaarheid saamloop en dat verhoudings en menslike konneksie heling bevorder. Ek bly passievol oor veerkragtigheid en hoop om my kliënte te help binne die konteks van 'n ondersteunende terapeutiese verhouding om hul innerlike emosionele hulpbronne en kragte vir persoonlike groei te (her)ontdek. 

Ek het my meestersgraad in kliniese sielkunde voltooi by die Nelson Mandela Universiteit in Gqeberha/Port Elizabeth, waar ek ook my gemeenskapsdiensjaar gedoen het. Gedurende hierdie tyd het ek gewerk met kliënte van allerlei ouderdomme en agtergronde, diagnoses, lewensprobleme en emosionele uitdagings by die universiteit se sielkunde kliniek, die Elizabeth Donkin psigiatriese hospitaal, Livingstone Hospitaal en die gemeenskapsklinieke in die woongebiede van Motherwell, Kwazakhele en New Brighton. 

Tans is dit 'n plesier om as privaat praktisyn te werk vanaf my tuispraktyk in Rawsonville, waar ek ook my dienste bied vir persone wat bly in Worcester, Wolseley, Ceres, Tulbagh en ander nabygeleë dorpe. Ek werk ook by die Paarl Family Health gebou te 147 Hoofstraat, Paarl (sien www.psychologistpaarl.co.za). Op versoek, geniet ek dit ook om my dienste te lewer vir nie-winsgewende organisasies, besighede, plase, skole en ander instellings wat my professionele hulp benodig, hetsy dit vir die lewering van individuele terapie, groepterapie, werkswinkels, of sielkundige lesings is.